Japan

Japan (Japannees: 日本, Nippon, [ɲip̚poɴ], , of Nihon, [ɲihoɴ], ; amptelik: 日本国, Nippon-koku of Nihon-koku, , letterlik: "Staat Japan") is 'n eilandstaat in Oos-Asië. Dit is geleë tussen die Stille Oseaan en die See van Japan, oos van die Koreaanse Skiereiland, China en Rusland, en strek van die See van Ochotsk in die noordooste tot by die Oos-Chinese See in die suidweste. Die karakters waaruit Japan se naam bestaan beteken "son-oorsprong" wat aanleiding gee tot die naam "land van die opkomende son", en wat verwys na Japan se oostelike posisie relatief tot die Asiatiese vasteland. Japan bestaan uit meer as 3 000 eilande; die grootstes daarvan, van suid na noord is Kioesjoe, Sjikokoe, Honsjoe, die grootste eiland, en Hokkaido wat saam 97% van die land se grondoppervlak beslaan. Die meeste van die eilande is bergagtig en baie vulkanies. Japan se hoogste bergpiek, berg Foedji, is byvoorbeeld 'n vulkaan. Japan het met ongeveer 125 miljoen inwoners die wêreld se elfde grootste bevolking. Die Groter-Tokiogebied, wat die hoofstad Tokio en verskeie omliggende prefekture insluit, is die grootste metropolitaanse gebied ter wêreld met meer as 30 miljoen inwoners. Argeologiese navorsing dui daarop dat die eilande van Japan reeds in die Jong-paleolitikumtydperk deur mense bewoon is. Die eerste geskrewe verwysing na Japan begin met vlugtige verwysings in Chinese geskiedkundige tekste van ongeveer die eerste eeu n.C. Invloede van buite gevolg deur lang tydperke van isolasie, is kenmerkend van Japan se geskiedenis. Sedert die aanvaarding van sy grondwet in 1947 handhaaf Japan 'n unitêre grondwetlike monargie met 'n keiser en 'n verkose parlement, die Kokkai. Japan is 'n reuse ekonomiese moondheid en was met die eerste kwartaal van 2010 nog die wêreld se tweede grootste ekonomie, volgens nominale bruto binnelandse produk, totdat dit deur China ingehaal is. Japan is 'n lid van die Verenigde Nasies, G8, G4 en ESASOG, met die wêreld se vyfde grootste verdedigingsbegroting. Dit is ook die vierde grootste uitvoerder ter wêreld en die vierde grootste invoerder asook 'n wêreldleier in tegnologie en masjinerie.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search